Die
Pappa wat getrou was aan sy belofte aan sy seun
(vra
vir Pappa of Mamma om dit vir julle te lees of te vertel)
In Januarie 1988 het ‘n
Armeense ouerpaar met die name Samuel en Danielle hulle seuntjie Armand vir die
eerste keer skool toe gestuur. Voordat
hy weg is, het Samuel voor Armand gekniel en hom styf vasgedruk. “Jy moet lekker skoolgaan, grootseun,” het hy
vir hom gesê. “En onthou, maak nie saak
wát gebeur nie, ek sal altyd daar wees vir jou.” Etlike ure later het ‘n ernstige aardbewing Armenië
getref. Honderde geboue is in puin gelë,
honderde mense het gesterf en nog duisende is beseer. Samuel en Danielle het hulle dadelik na
Armand se skool gehaas. Daar het hulle ‘n
klomp huilend ouers aangetref. Van die
skooltjie was net ‘n rommelhoop oor.
Samuel het dadelik verwoed in die rommel begin grawe op die plek waar hy
geskat het Armand se klaskamer sou wees.
Hy het met sy kaal hande groot rotsblokke en houtbalke begin verwyder,
maar daar was geen teken van enige kinders nie, en hulle kon ook niks hoor nie. “Wat dink jy doen jy?” wou ‘n omstander weet. “My seun is onder die rommel begrawe en ek
gaan hom uithaal,” het Samuel gesê.
Niemand wou hom met sy reddingspoging help nie, omdat die gebou aan die intuimel was en dit
lewensgevaarlik sou wees om iemand daar te probeer uithaal. Later het die gesondheidsbeamptes probeer om
Samuel by die gebou weg te kry, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie en
onvermoeid voortgegaan met sy reddingspoging.
Drie dae later het hy hom verbeel dat hy ‘n flou stemmetjie kon hoor wat
“help” geroep het. Met nuwe moed het hy verder
gegrawe. Ná nog ‘n paar uur was die
stemmetjie heelwat duideliker, en het hy tot sy groot vreugde Armand se stem
herken.
Nóg ‘n rukkie later het hy
sy seuntjie ongedeerd tussen die klippe uitgehaal. “Ek het geweet Pappa sou my kom haal,” het
klein Armand gesê. “Pappa het mos
belowe. En ek het vir al die ander
kinders gesê hulle hoef nie bang te wees nie, want mý pappa gaan ons hier
uitkry.” Oorstelp van blydskap het
Samuel daar tussen die rommel by sy seuntjie gekniel, hom in sy arms vasgedruk
en vir God dankie gesê.
Op daardie dag is veertien
klein seuntjies gered omdat één pa getrou was aan sy belofte.
Hierdie pappa was getrou aan sy seuntjie, maar Pappa God is
soveel méér getrou as ‘n mens. Dwarsdeur
die Bybel word ons van God se getrouheid verseker. Hy het sy volk deur die eeue getrou bewaar en
elkeen van sy beloftes nagekom, alhoewel hulle so dikwels aan Hóm ontrou
was. “As ons ontrou is – Hy bly getrou,”
verseker Paulus vir Timoteus. “Hy kan
nie aan Homself ontrou word nie” (2 Timoteus 2:13, NLV). Die Here het vreugde daaraan om getrou te
wees,” is die profeet Jesaja (42:21) se boodskap aan die volk wat in
ballingskap weggevoer is. En in sy
wydingsgebed vir die tempel getuig koning Salomo: “Here, God van Israel, in die
hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde
betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien” (1 Konings 8:23, NLV).
Nina Smit : ‘n
Lied van Vreugde
No comments:
Post a Comment