Tuesday 8 December 2015

Die Pappa wat getrou was aan sy belofte aan sy seun







Die Pappa wat getrou was aan sy belofte aan sy seun

(vra vir Pappa of Mamma om dit vir julle te lees of te vertel)

In Januarie 1988 het ‘n Armeense ouerpaar met die name Samuel en Danielle hulle seuntjie Armand vir die eerste keer skool toe gestuur.  Voordat hy weg is, het Samuel voor Armand gekniel en hom styf vasgedruk.  “Jy moet lekker skoolgaan, grootseun,” het hy vir hom gesê.  “En onthou, maak nie saak wát gebeur nie, ek sal altyd daar wees vir jou.”  Etlike ure later het ‘n ernstige aardbewing Armenië getref.  Honderde geboue is in puin gelë, honderde mense het gesterf en nog duisende is beseer.  Samuel en Danielle het hulle dadelik na Armand se skool gehaas.  Daar het hulle ‘n klomp huilend ouers aangetref.  Van die skooltjie was net ‘n rommelhoop oor.  Samuel het dadelik verwoed in die rommel begin grawe op die plek waar hy geskat het Armand se klaskamer sou wees.  Hy het met sy kaal hande groot rotsblokke en houtbalke begin verwyder, maar daar was geen teken van enige kinders nie, en hulle kon ook niks hoor nie.  “Wat dink jy doen jy?”  wou ‘n omstander weet.  “My seun is onder die rommel begrawe en ek gaan hom uithaal,” het Samuel gesê.  Niemand wou hom met sy reddingspoging help nie, omdat  die gebou aan die intuimel was en dit lewensgevaarlik sou wees om iemand daar te probeer uithaal.  Later het die gesondheidsbeamptes probeer om Samuel by die gebou weg te kry, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie en onvermoeid voortgegaan met sy reddingspoging.  Drie dae later het hy hom verbeel dat hy ‘n flou stemmetjie kon hoor wat “help” geroep het.  Met nuwe moed het hy verder gegrawe.  Ná nog ‘n paar uur was die stemmetjie heelwat duideliker, en het hy tot sy groot vreugde Armand se stem herken.

Nóg ‘n rukkie later het hy sy seuntjie ongedeerd tussen die klippe uitgehaal.  “Ek het geweet Pappa sou my kom haal,” het klein Armand gesê.  “Pappa het mos belowe.  En ek het vir al die ander kinders gesê hulle hoef nie bang te wees nie, want mý pappa gaan ons hier uitkry.”  Oorstelp van blydskap het Samuel daar tussen die rommel by sy seuntjie gekniel, hom in sy arms vasgedruk en vir God dankie gesê.

Op daardie dag is veertien klein seuntjies gered omdat één pa getrou was aan sy belofte.


Hierdie pappa was getrou aan sy seuntjie, maar Pappa God is soveel méér getrou as ‘n mens.  Dwarsdeur die Bybel word ons van God se getrouheid verseker.  Hy het sy volk deur die eeue getrou bewaar en elkeen van sy beloftes nagekom, alhoewel hulle so dikwels aan Hóm ontrou was.  “As ons ontrou is – Hy bly getrou,” verseker Paulus vir Timoteus.  “Hy kan nie aan Homself ontrou word nie” (2 Timoteus 2:13, NLV).  Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees,” is die profeet Jesaja (42:21) se boodskap aan die volk wat in ballingskap weggevoer is.  En in sy wydingsgebed vir die tempel getuig koning Salomo: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie.  U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien” (1 Konings 8:23, NLV).


Nina Smit  :  ‘n Lied van Vreugde





No comments:

Post a Comment